Sunday, March 26, 2006

Blou Valkie

Goue spatsels vlek en spring vanaf die glas tot op my hand
Terwyl ek die blou valkie deur ons kombuis venster beloer
Die blou beveerde Stratosjagter troon statig oor sy karkas
My hand begin na die kraan te soek en rond te tas
Nie veel groter as my vuis sit hy - 'n monument van ganse beheer
Ons agterplaas word só, elke middag beleer

Friday, March 10, 2006

Dag en Nag

Die walms wieg verleidelik op die son-gebakte vlakte
My are klop sterk onder die bruin van my hand
Die ryer en gemsbok dwaal gerus hier dan daar
Ek ruik die sweet-en-bos-en-blou lug
Ek lag, my hemp is oop en vuil
Maar ek gee nie om nie
Ek kyk weer om my rond;
Die mure staan en blokkeer die wêreld, asemloos
Die hand wat die papier vashou smelt vaal saam
Mens en masjien skreeu saam en teen en oor mekaar
Gemors en kar ruk aan my neusgate tot ek snak na lug
My hemp is toe en ge-das, bedek met 'n jas
En ek gee nie meer om nie

Tuesday, February 07, 2006

Mense van die Donker Kas

Daar was 'n man gewees
Wat op 'n klip gesit het
en vergeefs gebid het.

Daar was 'n vrou gewees
Wat in die lang gras gekrul was
en omvou het Wat Was.

Hulle oë was toe gelas
Deur gebeure uit 'n donker kas
Die enigste ander verbintenis was
Dat hulle altwee saam alleen was.

Tuesday, January 10, 2006

1. Een

Wat is een met my?
Vra die brokkelende man
Terwyl hy gehurk sit op die wal
Langs die rivier wat deur die aarde sny.

Soos my droom helderheid
‘n Gemors, ‘n getuimel
Wat is werklik in dié geskuimel...
Werklik?

En antwoorde sal nooit kom
van dié gepeins
Die wal beweeg en die water staan stil
Dis simpel

Soos twee treine
met hul passasiers mors.

Monday, December 12, 2005

Ogiesdraad

Droewig
vol gate
sonder meer
verlate

'n duisterling
'n deinsing
'n skim se nuttelose
peinsing

betag...

Die Heelal
in lyn en kleur
'n Groot Liefde
verruklik en teer
wiegend in die skrale briesie
'n spatsel beweging wat my meesleur

en ek voel die Asem roer
deur die ogiesdraad van my dop
deur die stegies en stroompies van my wese
en ek kyk op;
en swyg
want die Groot Stem praat nou;
en ek verstaan net vir 'n kosbare oomblik
my plek;

Die verskil tussen nietig en klein
Liefde se Doper is Pyn
Die Heilige Kontras
En tussenin
Sit ons vas.

Saturday, December 03, 2005

Surings

Hoe moet ek maak?
Gediggies oor Natuur?
Blommetjies geel en suur?

Moet ek dig oor die Liefde?
Die nooi so mooi in rooi?
Van bloos of reguit na die kooi?

Vreemde digters in ander lande
Of eie's van ander tye
Kon skaflik vry oor die lewe seil
Maar God kyk toe, terwyl
Die suurreën my siel bevuil
Swartgekoek
My taal aan skerwe
My drome
My mense onderwerpe
'n Banneling
'n Skuldige ding
Onkruid, suur en gesny.

Die blommetjies van my jeug
'n Voorsmaak vir my ...

McGuyver - 1993 tot 2005

Man met sandale
Gooi wit skulpe vir my hond
Wye Hemel strand

Tuesday, November 15, 2005

Wie is ons?

[Hierdie is die lirieke van my eerste Afrikaanse liedjie:]

Dorre vlaktes roep my naam,
In 'n taal wat ek verstaan.

Inmekaar en ingevou,
Nutteloos - ons moet onthou.

Wie is ons?
Wie is ons?

Hierdie hande voel so leeg,
Van-beloftes-sweer en trane pleeg.

As ek maar nog een keer kan,
Vasberade op kan staan.

Wie is ons?
Wie is ons? ( x 2 )

En ek weet nie mooi waar my huis is nie,
Nee ek weet nie mooi waar ek tuis is nie.

Verlede van 'n enkeling,
Môre wag dieselfde ding.

Nes my mense van die wind,
Is ek vry of is ek blind?

Wie is ons?
Wie is ons? ( x 2 )

En ek weet nie mooi waar my huis is nie,
Nee ek weet nie mooi waar ek tuis is nie...

Strayed

A boy walks down a street dusk-gold
Preceded by that twin so dark
Knowing now Sorrow's jealous mark
As he feels its weight so cold.

He edges to his home but strays
As his feet turns his soul around
Towards the whisper ocean sound
But ends up in the alleyways.

Never again was he heard or found
Until I peered at mirror glass
And found him cold and still, at last
Behind the lines and beard still bound.

Thursday, November 10, 2005

Silent Night

When again I broke and fell
Besieged, assailed under the misty night
When they came across from hell
Black crows in that horror tight

I took one last breath of light
Right before the Red Moon shone
It's malice through charred wings in flight
And stood amids the fury alone.

This time no saviour to come
No voice over the frenzied drone
I knew my time was done
And stood amids the fury alone.

Wednesday, November 09, 2005

Cold Sun Afternoon

Sensitivities unfold painfully slow,
Flaking away to reveal the truth below;
An ugly length of time we managed to hide,
Our knowledge, acceptance of the great divide.
To voice the rift is to admit the guilt,
'So you're the one who broke what was built?'
Instead we sit and stare and pace,
In silent agreement of what we won't face.
Until once again, the numbness returned,
Wrapped even tighter over what once burned.

Monday, October 31, 2005

Londen op 'n Vrydag

Die soja latté stoom warm lug
'n Beker wat saam salig sug
Terwyl ek uit die winkel skouer
Vas teen die varste winter koue

Die geknars van my Times koerant
Saamgepers in my handskoen hand
Por my aan ná my week se geswoeg
Haastig oor die pad na my Engelse kroeg

Dan het ek my pyp en Duitse bier
Alles raak mos weer rustig hier
En trek ek diep my Suid-Afrikaanse tabak
En haal ek my ouers se brief, uit my sak.

Friday, October 21, 2005

Sketches

You end my day
When you walk away
So strong and sweet
On fragile feet

Onder 'n koue maan.

Vat, glip en vergryp
Ink bloeisels krap vergeefs
Met skarrel-wind woede vergaan hulle
Onder wit brander blaaie
'Ek vrek oor jou'.

Doringbos takke strek peinsend uit
'Ek wag-'n-bietjie hier'
Lag ek vir myself en ril
My leuen is koud en kil
'Dit gaan voor die wind'

Dit gaan voor die wind
Ja.
Lief.
Koud en kil.

Wednesday, October 19, 2005

Kampvegter


Uitgeput lê die figuur in die stof
gebroke vuiste
geskeurde klere
sand in elke sweer gekoek
en tog...
'n gedagte
'n resolusie

Die honde wat rondom hom wag
is vet, kwylend en waaksaam
'n massa
spier en wraak
en tog...
die figuur in die stof lyk stil
uiteindelik
finaal

Die vet man in die hoek vee sy mond af
die haat drup van sy ken tot op sy walglikheid
"Maak gou!"
Sy honde beweeg weer
en tog...
Is dit werklik verby?
Het die son verdwyn?

Êrens bo die geraas van blinde stemme
dring daar 'n ligstraal verbysterd deur
Reg deur die 'tevergeefs' sny 'jy kan'
'jy gaan'
'nou'
en toe...
Maak die figuur
weer sy oë oop.

Die man en sy honde verstar.