Friday, May 30, 2014

Ora (my ma)




die duiker-ooi wandel vanaf die Swartland berg
en terwyl sy met feetjies skinder
meng sy haar seisoene soos verf
soms slof sy in die stof blond
kaalvoet, vuilneus en gesond
soms flit-flit sy suikerbekkie-fyn
versigtig oor 'n geharde Protea-tuin

(jare verdwyn

en ek verskyn)

sy vang my
in haar heilige arms
draai my toe in
'n glimlag-kombers
en haar wiegie-vers 
en die arms hou
en hou en hou


twintig tone in 'n lyn
in die sepia-sonskyn
in 'n Bellville yard
waar miere vervaart
ons Marmite broodjies wil bekom
ons voorskoolse, huisvrou en
(Pa se riller-Grens) ure
so is ek omvou
deur jou.

(sonder veel woorde)

steeds wandel jy
in stille akkoorde
met jou pleisters 
en skottelgoedwashande
in grotte waar ek in die donker grou

die duiker-ooi
verpleeg my
se liefde
ontstig my
belig en rig my
na Pierneef-kranse in die son.



* Foto van my Ma met my dogter.

2 comments:

Anonymous said...

Hi Eebn, heeltemal ander styl as ek, maar dit is baie goed. - Johan VW

Eben van Renen said...

Baie dankie, Johan, ek het bietjie advies gekry van my digter-maatjie en gaan dit bietjie verander. Amper gereed om dit vir my Ma te wys...