Wednesday, October 19, 2005

Kampvegter


Uitgeput lê die figuur in die stof
gebroke vuiste
geskeurde klere
sand in elke sweer gekoek
en tog...
'n gedagte
'n resolusie

Die honde wat rondom hom wag
is vet, kwylend en waaksaam
'n massa
spier en wraak
en tog...
die figuur in die stof lyk stil
uiteindelik
finaal

Die vet man in die hoek vee sy mond af
die haat drup van sy ken tot op sy walglikheid
"Maak gou!"
Sy honde beweeg weer
en tog...
Is dit werklik verby?
Het die son verdwyn?

Êrens bo die geraas van blinde stemme
dring daar 'n ligstraal verbysterd deur
Reg deur die 'tevergeefs' sny 'jy kan'
'jy gaan'
'nou'
en toe...
Maak die figuur
weer sy oë oop.

Die man en sy honde verstar.