Tuesday, May 13, 2014

Afrikaner genesis eksodus




Ek kom van melk spatsels en Cobra walms oor bruin
Goedkoop gekraakte kombuisteëls
En sonlig groen deur Sunlight bottel naby wasbak

Ek groei uit ’n dik mat alge-groen buffelsgras
Bedompig en vars
Wat my laat juk as ek val
“Tikkie!” “Pass!” “Touch!”
Mond wat droog maar hygend lag

Ek waai oor Van Riebeeckstrand
Bamboes en skulp en seewier droog
Hier plat hier duinerig maar orals sout
Blou plat berg wat eenkant op my wag
Die skim wat my altyd in my drome laat lag
Ek vat die staffie vir ’n stappie op my strand

Ek slaap in groot klaskamers met ou houtbanke
Wat toeklap oor jou kop met graffiti uitgegrawe
Bordkryt stof wat klinies ruik
Boek netjies
Uniforms en hare netjies
Skoene blink
Menere met snorre, juffroue met rompe
Ek droom oor meisies se bene
In Wiskunde klas
En ander klasse
En die geheimenisse wat rokke versluier
Maar Meneer is streng
En wakkerder as ek.
“Trek die lyn met die liniaal!”
Aardbol in die hoek onder stofstrale belig
NJ, Roy, Spies, Theo, Stephan, Stefan, Anne-Marie, Karien, Celeste
Bernadine, Napoleon, Sonja, Flippie, Jannie, Jeandré, Andre.

Ek staan op vir jou Suid-Afrika
Uit die diepte van ons seer see-harte
Hys die vlag na die blou van onse onsin-hemel
“Wys ons U’s ons Here”
“Ons is U Volk”
’n Volk ’n Volk ’n Volk
Ons is Suid-Afrika en Suid-Afrika is ons
Ek behoort

Ek aanbid Meneer ons Jintelman Orator
Storieman Afrikaner
Leermeester trap diep spore deur my jare.
Waar is Meneer nou?
Waar my spilpunt, my Afrikaner-droom?

Ek kniel voor klein rooi kers in vorm van ’n skippie
Ek bind katolieke drome om Calvinistiese swere
My smagting na bloed en die mistieke
Maar veral die meisies se bene
En reik uit
Na vrou na man-word na vel en die lewe self.

En toe klim ek op ’n vliegtuig na Londen.

No comments: