Monday, January 30, 2012

Koning van die motte

Grof groen wol - sy jas
sy vonk deur gate vervloeë
loop soos geraamte onvas
met blonde strooi voor oë
soos wit was
wat sou kon flits
mits
hy sou opkyk
maar goddank
hy ontwyk

maar die motte
met vlerke van as
monde van as
harte van as
slinger dol indirek
soos die fluisterstemme
van dou
op kindergrafte
na jou.

Sunday, January 01, 2012

'n Afstammeling bid

My Vaders
Hier staan een van julle seuns
Nou 'n man
Ken ek julle?
Fluister julle in my drome?
Of vertel ek myself die slaaptydlegendes
En wieg ek myself op 'n skim se wysie

My Vaders
Moet my nie verlaat nie.

My Moeders
Hier staan een van julle seuns
Nou 'n man
Ken ek julle?
Die bloed van die vroue
Kloppend ook deur my are
Bied dit vir my 'n koers in my hart?

My Moeders
Moet my nie verwerp nie.

Tuimelend in the Noorde

En so rol ons voort
Klippies onder die marmer gletser
Brokkelend soos krummels
Tussen reuse wit malers
Skaaf skuur kraak
Meestal teen mekaar
Meestal salig onbewus
Van die wit bo ons
Om ons

Ons dans op sy maat
'n Trae meedoënlose ritme
Wat wolkekrabbers kan neervel
En Uitvee
So glip ons al
Knersende botsende swetsende
Soos blink gepoetste bergtrane
In 'n tuimelende val na die Hel
En die See

Waar daardie baarmoeder
Ons met haar blou sout sal omvou
Eers sal wieg
Soos haar kinders
Dan sal werp
Op wye klipstrande

Ons bushalte tot die volgende
Ysige Ewigheid
Intussen
Uiteindelik
Die Insluimering
Gevul met
Die sand drome van 'n einde.

Friday, May 20, 2011

Vanaand begrawe ek vir Venus


Vanaand begrawe ek vir Venus
Sy wat sopas uit die skulp
- soos vlinder uit 'n papie -
kleur laat bloei het oor
die donker doek van God

Sewentien jaar het die papie
Stil-stil in my takke geskuil
Gereed vir hierdie
Presiese
Oomblik

'n Onthulling van grenslose drome
Die besef dat ek naak voor
Perfektheid staan en staar
Op op op na die berg waar
sy sorgvry staan en lag

Vanaand begrawe ek vir Venus
Ek lê haar neer op die perdeblomme
Sodat ek langs my eie vrou kan rus
En sy op die oggendbriesie

* * * * * * * Weg kan dryf

* * * * * * * * * * * * *Na iemand anders.

Monday, May 16, 2011

Oor die Stokrivier

oor die stokrivier is ek geneem
geruk en geskommel binne 'n
vliegtuig van papier
'ek is klaar met jou
'ek is klaar met jou'

die kettings breek los uit my
rug waar die skadu rus
en wag en lag en vinger wys
'ek kom vir jou
ek kom vir jou'

my voete toe- en afgesluit
van melkbos sand en moederband
so afgeslyt oor die vreemde
'waar ek die vreemde word
waar ek die vreemde word'

my kop skep lug sonder die
sug wat stoom uit bloedkoerant
maar die hart se wortels strek
'steeds terug dit beur
steeds terug dit beur'

al is die kettings gebreek
rem die wortels al hoe meer
my jonasvlug na Moby Dick
'sleep my steeds deur stokrivier
sleep my steeds deur stokrivier'


tot ek die skadu's lag verstaan
ek het nooit vir Babilon bereik
maar lê al die jare nog
'op die bodem van die stokrivier
op die bodem van die stokrivier'

Monday, December 15, 2008

Maar

Maar die jou-jou het losgeskeur
Sonder trane sonder treur
(Al was dit seer)
En Aardse braak
Het 'n Eiland gemaak
En niemand kon die lawa keer.

G ek

Tussen die onse lê 'n ek
Destyds in stof bedek
Uitgestrek
Voor Coca-Cola konsep
Drie - enig en vet.

My strand ook

Mens stap oor die drumpel duine
Strompel, kniel vooroor
Terwyl die Hemelglans
Van engele met wolk titane
Op die goue horison dans.

Sunday, July 20, 2008

Jou liefde wanneer dit kom

Jou liefde wanneer dit kom
kleef aan my
deurweek my met skuldgevoel
van my private stoeiery
ongesiends?
Of het ek jou waaksaam
bespied
Die loer
Agter sulke fronse broei
vermoedes
En agter my - die lyke
verstrooid
Bebloedes van gister
Die skille van uitgeworpe oomblikke
En wat word van my verwag?
Sekerheid?

Friday, April 11, 2008

Gletser

Oor die marmer wil my voete knars
blou koepel wit rivier
onder vrede wil spelonke bars
die kelders van die koue dier

Tiener

Jy loop so onseker onvas haastig op
Pad, weg na erens anders
Jy dink jy vlug so
Graag wil jy bestaan maar
Die moeras eendersheid ‘n
Sop waarin jy verdrink wat jy
Help skink en oplaas as almal
Die laaste blerrie ene
Ook ophou dink
Dan kyk ons vir mekaar
Dan kyk ons vir onsself
En soek na iets enigeiets
Wat kan uitstaan agter die
Glans die hoofletters en
! @ "" Maar nie die ?
Dan word ons ouer en
klere grouer al vergryp sommige so
verbete die slete van hul verlede
wat weerkaats in brandies tussen
moeë hande op plastiek
tafeldoek langs selfhelp boek
selfbehep te selfverlore
en onder die geel lig waar oë
verdonker sal jy onthou
en wonder
oor jou stryd na niksheid