Monday, January 30, 2012

Koning van die motte

Grof groen wol - sy jas
sy vonk deur gate vervloeë
loop soos geraamte onvas
met blonde strooi voor oë
soos wit was
wat sou kon flits
mits
hy sou opkyk
maar goddank
hy ontwyk

maar die motte
met vlerke van as
monde van as
harte van as
slinger dol indirek
soos die fluisterstemme
van dou
op kindergrafte
in jou
vas

Sunday, January 01, 2012

'n Afstammeling bid

My Vaders
Hier staan een van julle seuns
Nou 'n man
Ken ek julle?
Fluister julle in my drome?
Of vertel ek myself die slaaptydlegendes
En wieg ek myself op 'n skim se wysie

My Vaders
Moet my nie verlaat nie.

My Moeders
Hier staan een van julle seuns
Nou 'n man
Ken ek julle?
Die bloed van die vroue
Kloppend ook deur my are
Bied dit vir my 'n koers in my hart?

My Moeders
Moet my nie verwerp nie.

Tuimelend in the Noorde

En so rol ons voort
Klippies onder die marmer gletser
Brokkelend soos krummels
Tussen reuse wit malers
Skaaf skuur kraak
Meestal teen mekaar
Meestal salig onbewus
Van die wit bo ons
Om ons

Ons dans op sy maat
'n Trae meedoënlose ritme
Wat wolkekrabbers kan neervel
En Uitvee
So glip ons al
Knersende botsende swetsende
Soos blink gepoetste bergtrane
In 'n tuimelende val na die Hel
En die See

Waar daardie baarmoeder
Ons met haar blou sout sal omvou
Eers sal wieg
Soos haar kinders
Dan sal werp
Op wye klipstrande

Ons bushalte tot die volgende
Ysige Ewigheid
Intussen
Uiteindelik
Die Insluimering
Gevul met
Die sand drome van 'n einde.