Friday, May 20, 2011

Vanaand begrawe ek vir Venus


Vanaand begrawe ek vir Venus
Sy wat sopas uit die skulp
- soos vlinder uit 'n papie -
kleur laat bloei het oor
die donker doek van God

Sewentien jaar het die papie
Stil-stil in my takke geskuil
Gereed vir hierdie
Presiese
Oomblik

'n Onthulling van grenslose drome
Die besef dat ek naak voor
Perfektheid staan en staar
Op op op na die berg waar
sy sorgvry staan en lag

Vanaand begrawe ek vir Venus
Ek lê haar neer op die perdeblomme
Sodat ek langs my eie vrou kan rus
En sy op die oggendbriesie

* * * * * * * Weg kan dryf

* * * * * * * * * * * * *Na iemand anders.

Monday, May 16, 2011

Oor die Stokrivier

oor die stokrivier is ek geneem
geruk en geskommel binne 'n
vliegtuig van papier
'ek is klaar met jou
'ek is klaar met jou'

die kettings breek los uit my
rug waar die skadu rus
en wag en lag en vinger wys
'ek kom vir jou
ek kom vir jou'

my voete toe- en afgesluit
van melkbos sand en moederband
so afgeslyt oor die vreemde
'waar ek die vreemde word
waar ek die vreemde word'

my kop skep lug sonder die
sug wat stoom uit bloedkoerant
maar die hart se wortels strek
'steeds terug dit beur
steeds terug dit beur'

al is die kettings gebreek
rem die wortels al hoe meer
my jonasvlug na Moby Dick
'sleep my steeds deur stokrivier
sleep my steeds deur stokrivier'


tot ek die skadu's lag verstaan
ek het nooit vir Babilon bereik
maar lê al die jare nog
'op die bodem van die stokrivier
op die bodem van die stokrivier'