Monday, December 12, 2005

Ogiesdraad

Droewig
vol gate
sonder meer
verlate

'n duisterling
'n deinsing
'n skim se nuttelose
peinsing

betag...

Die Heelal
in lyn en kleur
'n Groot Liefde
verruklik en teer
wiegend in die skrale briesie
'n spatsel beweging wat my meesleur

en ek voel die Asem roer
deur die ogiesdraad van my dop
deur die stegies en stroompies van my wese
en ek kyk op;
en swyg
want die Groot Stem praat nou;
en ek verstaan net vir 'n kosbare oomblik
my plek;

Die verskil tussen nietig en klein
Liefde se Doper is Pyn
Die Heilige Kontras
En tussenin
Sit ons vas.

Saturday, December 03, 2005

Surings

Hoe moet ek maak?
Gediggies oor Natuur?
Blommetjies geel en suur?

Moet ek dig oor die Liefde?
Die nooi so mooi in rooi?
Van bloos of reguit na die kooi?

Vreemde digters in ander lande
Of eie's van ander tye
Kon skaflik vry oor die lewe seil
Maar God kyk toe, terwyl
Die suurreƫn my siel bevuil
Swartgekoek
My taal aan skerwe
My drome
My mense onderwerpe
'n Banneling
'n Skuldige ding
Onkruid, suur en gesny.

Die blommetjies van my jeug
'n Voorsmaak vir my ...

McGuyver - 1993 tot 2005

Man met sandale
Gooi wit skulpe vir my hond
Wye Hemel strand