Monday, January 21, 2008

Die Knieër

Kniediep tussen bakke en lyste
Knak en knetter die knieër se kneukels
Are en meel lê op die arms en vuiste
Die wit is ritmies gehul in die duister

Die tande die kners
Op die tafel een kers
Wat flikker en dans
'n Bitter séance

Voor kake van yster oopgegooi
Talm die knieër voor die hitte 'n ruk
Die vure smeul en beveel en hy gooi
Die sagte verdwyn, in tonge van rooi.

Wednesday, January 09, 2008

Die eerlike kroeg

"Junne, ek hou van jou Skil"
"Skil? Jy meen soos Dop?"
"O ja, net soos Dop. Ek noem myne liewer 'Skil', dit laat my
minder aan my skooldae dink as 'Dop'."
"Wel, dankie. Joune is ook mooi. Wanneer het jy dit gekry?"
"Myne is 'n 76 model. En joune as ek mag vra?"
"78"
"Ja, baie mooi lyne. Ek hou van die bulte, dit laat my arme DNA bokspring"
"Ha, dankie jong. Hoekom arme DNA?"
"Wel, die voortplanting programeering is so ouderwets deesdae. Daar is mos genoeg van ons op hierdie arme planeet!"
"Nogal. Hoe hou jy jou Dop - jammer - Skil, in werkende orde? Die bakwerk lyk besonders stewig gebou... ja, daar voel ek nou my eie DNA ook roer." (Bloos)
"Ag, jy weet mos. Daaglikse oefensessies en goeie gehalte brandstof ten minste elke vier uur. Sover werk dit goed om ekstra bagasie van die bakwerk af te hou, en die enjin loop glad."
"Klink dieselfde as my onderhoudsprogram."
"So..."
"So..."


"Jou garage of myne?"