Monday, December 12, 2005

Ogiesdraad

Droewig
vol gate
sonder meer
verlate

'n duisterling
'n deinsing
'n skim se nuttelose
peinsing

betag...

Die Heelal
in lyn en kleur
'n Groot Liefde
verruklik en teer
wiegend in die skrale briesie
'n spatsel beweging wat my meesleur

en ek voel die Asem roer
deur die ogiesdraad van my dop
deur die stegies en stroompies van my wese
en ek kyk op;
en swyg
want die Groot Stem praat nou;
en ek verstaan net vir 'n kosbare oomblik
my plek;

Die verskil tussen nietig en klein
Liefde se Doper is Pyn
Die Heilige Kontras
En tussenin
Sit ons vas.

5 comments:

Anonymous said...

Ongelooflik!!! Ek love die ritme daarvan.

Iewers net onder my hart is daar 'n lee kol, hierdie gedig vul daardie leemte met ongelooflike emosie!

Eben van Renen said...

'n Enorme kompliment. Baie dankie, ilo.

Anonymous said...

Hilda slaan die spyker baie presies op sy kop met "Subtiliteit Bemeester".

Eben, hoe meer ek dit lees hoe meer hou ek daarvan. Dit is regtig 'n besondere stuk werk.

Eben van Renen said...

EK dink die delikate draaitjie is my greep op die werklikheid... dankie, maar moet niemand se nie asb.

Anonymous said...

My vel prikkel as ek die lees. Ou sieelmaatjie, die stoute kabouter, wens nog so baie vir jou...vir jou en jou vrou.