Thursday, October 11, 2007

Op die rand


Op ons kampeer stoel sit ek en stop Rum and Maple tabak. Verreweg my gunsteling.
Op die tweede verdieping van die woonstel is dit effe koel op die balkon vannaand. Ou Man Winter is besig om te loer na ons.
Hierdie stook-proses streel my gemoed op 'n amper fisiese-geestelike vlak. Die filter kom eerste, skroef pyp toe, frommel 'n bolletjie twak en stop, wysvinger eerste, middelvinger laaste...
Ek kroek vannaand. Gebruik die Bic inpleks van vuurhoutjies.
(Vuur-houtjies: Snaakse woord!)
Die son trek water oor die sederbome, daar doer teen die bult. Sy goue lig is maar leeg van hitte.
Tog, die wolke gloei weer roospienk, goud en purpur.
Dit is meteens goddelik én apokalipties.
Die Son is nou op sy eie gewandel oor die Stille Oseaan uit. More groet ons miskien weer vir mekaar, as die wolke net nie weer met sy betogings-eenheid hier opdaag nie.
Ja, as mense praat van "die Weste" of "weswaarts", met duim of kopknik miskien beduie, dan wys hulle as te ware na waar ek nou hier sit en rook.
So sit ek op my balkon, wat uitkyk oor die rand van die kaart. Hier op die rand van die wêreld. Hier is ek die een wat 'goeienag'-sê vir die Son, aan die ander kant sit daar seker iemand op 'n balkon in Japan en sê 'goeiemore'.
Die twak proe maar efferig, maar dit skeel my min.

1 comment:

Anonymous said...

hey Eben, goed om te sien jy skrywe bietjie prosa>> ek's nogal jaloers, belowe al so lank aan myself dat ek 'n short story gaan write.. en het dit nou nog nie gedoen nie!! heeltemal 'n nuwe veld, hoop ons gaan nog lees.